10
Aug

n Onlangse besoek aan die Yunnan Provinsie in Sjina om hul groeiende industrie te ondersoek..

Die Groeiende Makadamia Neut Industrie in Sjina

Barry Christie

SUBTROP

SAMAC het ondanks ‘n beperkte bemarkingsbegroting ‘n ongelooflike suksesvolle bemarkingsdag gehad in Shanghai, Sjina op 22 Junie 2016. Die doel van die dag was veeldoelig. Eerstens, om bewusmaking te skep van die Suid Afrikaanse makadamia neut industrie by handelaars sowel as die media, wat op sy beurt die eindverbruiker bereik. Vyftien verskeie persbeamptes het die dag bygewoon, en teen die tyd wat hierdie artikel geskryf word is daar alreeds verskeie aanlyn artikels gepubliseer oor die geleentheid. Daar is volgense aanduidings van van die handelaars en industrie rolspelers ‘n groot aanvraag vir neute van Suid Afrika. Dit was verblydend om te hoor dat handelaars neute van Suid Afrika verkies as gevolg van beter kwaliteit. Dit word blykbaar toegeskryf aan ons goeie oespraktyke (nie meganies nie) en eenvormige boorde. Die neut-in-dop uitvoer standaard, wat ook  bespreek is, was ‘n treffer. Ons is egter aangemoedig om die standaard strenger te maak om aan die markvereistes te voldoen en vir meer gemoedsrus. Maar, nietemin, dit was baie positief ontvang en dit verseker verder dat Suid Afrika as ‘n prima makadamianeut verskaffer beskou word. Die ander doel was om met belangrike rolspelers in die Sjinese industrie verhouding te bou om sodoende van ‘n ander hoek af te probeer om die invoer tariewe van Suid Afrikaanse makadamia neute te verlaag. Ek het egter ‘n derde agenda gehad op my reis na Sjina – om self te gaan ondersoek instel oor die gerugte dat die Sjinese makadamia industrie so vinnig groei.

Na aanleiding van ‘n uitnodiging van Mev Chen by die Internasionale Makadamia Simposium in Skukuza in 2015 het ek besluit om die Yunnun provinsie te gaan besoek. Mev Chen is die president van die Yunnun Makadamia Vereniging, asook die hoof uitvoerende beampte van die Yunnun Macadamia Industry Development Company. Yunnun is die area wat die meeste makadamia aanplantings het, en wat ook die vinnigste groei in terme van aanplantings. Dit was in die suid-weste van Sjina, in die Lincang omgewing tot by Nan san, wat teen die Burmese grens is. Wat baie interessant is, is dat 96% van die Yunnun provinsie uit berge bestaan. Die 4% plat gebiede word hoofsaaklik vir dorpe/stede of rys aanplantings gebruik. Uiteraard word byna alle makadamia aanplantings op heuwels of berge gedoen word, soms teen baie steil hellings. Baie van die boorde is op terrasse geplant, terwyl baie net so sonder terrasse geplant is. Dit was ooglopend dat daar baie nuwe aanplantings plaasvind. Net wat die oog kon sien was skrikwekkend baie! Natuurlik is daar lang grondpaaie wat na areas lei wat nie sigbaar is van die pad af nie, met nóg meer boorde. Gaan bestudeer gerus daardie area met Google Earth! Verder – tussen Lincang en Nansan het ons verby ten minste drie vragmotors gery wat makadamia bome vervoer het. Ek kan nie onthou dat ek in Suid Afrika al meer as een voertuig in ‘n week teëgekom het wat makadamia bome vervoer nie. Maar, kom ons kyk na die syfers…

Die Yunnun Macadamia Development Company is ‘n interessante maatskappy. Hulle is betrokke deur die hele ketting – vanaf die kweek van bome, die boerdery asook verwerking en verpakking vir die eindverbruiker. Die maatskappy besit ongeveer 700 ha se makadamia boorde en is in die proses om self meer te plant. Hulle kweek makadamia bome in drie verskillende kwekerye. Die kwekerye is enorm en werklik iets om te aanskou! Twee van die kwekerye bevat huidiglik 1 miljoen bome elk, en die derde 1.5 miljoen. Volgens Mev Chen, verkoop hulle maatskappy alleen die ekwivalent van ongeveer 5 000 ha se makadamia bome jaarliks. Dit is uitgewerk teen 300 bome per hektaar. Daar is heelwat ander kwekerye ook en boonop is daar blykbaar baie kleinboere wat hul eie bome kweek, wat kommerwekkend is in terme van boom kwaliteit. Kwekery bome word verkoop vir ongeveer 12-15 RMB, wat sowat R30 is. Volgens inligting wat by die Wêreld Neut en Droë Vrugte Kongres bekom is, verskaf die staat in Sjina ‘n subsidie van 10 RMB per boom, wat ‘n groot impak het op die tempo waarteen die industrie groei. Die kwaliteit van die kwekery bome wat waargeneem is, is aanvaarbaar, maar in vergelyking met SAMAC-geakkrediteerde kwekerye is daar nog heelwat ruimte vir verbetering in terme van boom kwaliteit en infrastruktuur. Boomgrootte varieer redelik as gevolg van die feit dat die onderstamme saailinge is. ‘Beaumont’, ‘H2’ en een of twee ander kultivars waarvan ek nie die name gekry het nie word as onderstamme gebruik. Bome se stamme was oor die algemeen dikker as ons kwekerye se stamme. Bome word gekweek in die ope lug sonder enige nette, wat waarskynlik op die einde ‘n sterker boom na vore sal bring.

Boomgrootte in boorde het ook redelik varieer. Dit is waarskynlik as gevolg van die feit dat slegs saailinge geplant word, maar ander faktore soos die seleksieproses wat dalk minder streng is, snoeipraktyke wat bykans nie bestaan nie en ook variasie in grond. Dit is duidelik dat daar binne die volgende paar jaar ‘n ernstige poging aangewend sal moet word om die Sjinese boere te leer snoei. Baie van die boere het moontlik nog nooit met bome geboer nie omdat baie van die grond wat nou oortrek is met makadamia bome tot redelik onlangs nog suikkerrietlande was. Die gemiddelde boer in Yunnun het na my mening sowat 2-5 ha se makadamias. Daar is dus duisende kleinboere om te bereik, wat ‘n hele ander dinamika in hul bedryf inbring. Volgens Mev Chen is daar reeds ten minste 66 000 ha se makadamia boorde in Sjina gevestig en dat hul bedryf met sowat 20 000 ha per jaar groei.

Daar is geen twyfel dat Sjina binnekort die wêreld se grootste produsent van makadamianeute sal wees nie. Laat my toe om bietjie te spekuleer… Huidiglik hoef dit nie ‘n groot bekommernis te wees vir ons as ‘n Suid Afrikaanse makadamia industrie nie. Alhoewel daar nie ‘n onmiddelike bereiging is nie, kan daar in die nabye toekoms ‘n oormaat neute op ons markte beland. Die goeie nuus is dat, in terme van insekskade, die Sjinese neute nie ‘n probleem het nie, aangesien hulle basies nie veel peste het nie. Dit was duidelik dat blaaspootjies nie ‘n rol speel nie, waarskynlik as gevolg van die feit dat hulle vir geen ander peste spuit nie (blaaspootjies is gewoonlik ‘n reperkussie pes as gevolg van ander pesbespuitings). Maar, net soos wat stinkbesie en neutboorder populasies ontplof het in Suid Afrika, vertel die geskiedenis en natuurwette ons dat dieselfde daar ook sal gebeur – moontlik heelwat gouer daar as hier juis oor die grootte van hul industrie. Swak kwaliteit neute op die Sjinese mark, of selfs ander markte in die wêreld kan katastrofies wees. Die onus berus dus op ons (en Australië) om generiese bemarking van makadamias te doen om die verbruikersmark in Sjina uit te brei. Die feit van die saak is dat die Sjinese reeds begin dink aan makadamias uitvoer. Ons moet dus die verbruikers daar só stimuleer en opvoed dat hulle eerstens makadamias leer ken, en tweedens meer daarvan sal eet om ten minste die Sjinese produksie te kan absorbeer. Indien Sjina grootskaals makadamias begin uitvoer sal die kernmark meer uitdagend raak.

Mev Chen en haar kollegas het uit hulle pad uit gegaan om my te onthaal. Dit is duidelk dat hulle ‘n sterker verhouding met SAMAC wil bou. Die Yunnun makadamia vereniging het reeds ‘n formele verhouding en ooreenkoms met Australië gesluit, wat ook daartoe gelei het dat die invoer tarriewe vir Australië verlaag is. Australië bied tegniese bystand deur middel van gereelde besoeke en kundige advies om die industrie in Yunnun te help met kennis, soos byvoorbeeld snoeipraktyke. Die geleentheid bestaan dus nou om iets soortgelyks te doen, alhoewel dit duidelik gestel moet word dat invoer tarriewe waarskynlik nie binnekort deur ‘n vrye handelsooreenkoms verlaag sal word nie. Alhoewel die verskeie lande wat makadamias produseer in ‘n sekere sin as kompetisie beskou word, sal dit sinneloos wees om vyandig op te tree teenoor mekaar. Ons as ‘n industrie kan eerder probeer om inspraak te maak op dinge soos kwaliteit en in daardie opsig selfs ‘n positiewe invloed op die neutgehalte hê. Mev Chen het ‘n paar keer die woorde herhaal “Ons is ‘n makadamia familie”…

Comments ( 0 )

    Leave A Comment

    Your email address will not be published. Required fields are marked *

    Skip to toolbar