14
Aug

Nasionale Minimumloon: Wie, waar, hoekom en hoe?

Nasionale Minimumloon: Wie, waar, hoekom en hoe?

Die Nasionale Minimumloon wetsontwerp, sowel as die NEDLAC ooreenkoms, blyk ‘n groot bron van kommer te wees in die landbousektor. Hierdie dokument lig die mees belangrike aspekte van beide uit:

1. Die teikendatum is 1 Mei 2018:

Die bogenoemde teikendatum word in die NEDLAC ooreenkoms uitgesit, en dit beteken dat die regering nasionale wetgewing tussen nou (Augustus 2017) en die teikendatum (1 Mei 2018) wil promulgeer en implementeer.

Gegewe dat die wetsontwerp waarskynlik hewig by NEDLAC gedebatteer gaan word en daarna nog deur parlementêre prosesse moet gaan voor goedkeuring, is die tydsraamwerk besonder kort. Tydens ‘n gesprekforum met die Departement van Arbeid op Vrydag 10 Augustus het dit duidelik geword dat die implementeringsdatum nie geskuif gaan word nie, maar ook nie sonder die nuwe wet ingebring kan word nie. Amptenare kon nie die teenstrydigheid aanspreek nie.

Nietemin sal Agri SA voortgaan om deel te neem aan die proses en seker maak dat die belange van die landbousektor beskerm word. Deur BUSA lewer Agri SA kommentaar op die wetsontwerp en word daar seker gemaak dat die wetsontwerp binne die bestaande arbeidswetgewing inpas. Verder vergader Agri SA Maandag met die CCMA om verhoudinge te verstewig. Die CCMA gaan die aangewese forum wees waar geskille oor minimumlone aangehoor word.

2. Die voorgestelde minimumloon is R20 per uur:

Die ooreenkoms vermeld twee uitsonderings: Huiswerkers kwalifiseer vir 75% van die minimumloon (R15 per uur), en werkers in die landbousektor vir 90% van die minimumloon (R18 per uur). Hierdie uitsondering is soortgelyk aan internasionale tendense, waar werkers in hierdie twee sektore normaalweg ‘n persentasie van die totale minimumloon betaal word, of heeltemal uit so ‘n ooreenkoms gelaat word.

In die Suid-Afrikaanse konteks, met ons hoë werkloosheidssyfer, bly die vraag of ons die werkloosheidskoers wil vererger, of meer mense toegang wil gee tot werk, teen laer betaling. Die regering sal nie hele sektore toelaat om nie die minimumloon te betaal nie, maar het besluit dat ‘n Nasionale Minimumloon Kommissie tot stand gebring moet word, wat spesifiek navorsing sal doen om die vlak van die minimumloon te bepaal, en ook metodes om die betaling van die minimumloon te beloon, sal ondersoek.

Die huidige minimuloon soos bepaal in die landbou sektorale vasstelling is R15.39 (Maart 2017 to Februarie 2018). In Maart 2018 sal dit verhoog na R15.39 + CPI (5.5% geskat) + 1% = R16.39 (Maart 2018 – Februarie 2019). Dit bring die minimumloon volgens sektorale vasstelling na R1.61 per uur minder as die Nasionale Minimumloon, wat op 1 Mei 2018 sal inskop.

Aftrekkings wat volgens die sektorale vasstellings toegelaat word (soos behuising), sal steeds toegelaat word. Die sektorale vasstellings sal voortaan as skedules aan die Wet op Basiese Diensvoorwaardes geheg word, eerder as aparte sektorale vasstellings soos nou die geval is.

Die Nasionale Minimumloon is van toepassing op die volgende kategorieë werkers:

  1. Voltydse werkers.
  2. Deeltydse werkers.

Die Nasionale minimumloon tref nie onderskeid wat gebied betref, soos die sektorale vasstellings soms doen nie.

Die Nasionale Minimumloon word aan werkers betaal vir ure gewerk, en sluit bonusse en ander voordele uit. Aftrekkings ingevolge artikel 34 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes word toegelaat, met die instemming van die werker.

Dit is belangrik om te onthou dat dit die werkgewer se verantwoordelikheid is om produktiwiteit te bestuur, en dat dit meer en meer belangrik gaan word om die produksie van werkers korrek te bestuur, soos arbeidskoste verhoog.

Die doelwit is om huiswerkers en werkers in die landbousektor binne twee jaar op dieselfde vlak te betaal as werkers in ander sektore. Dit sal onderhewig wees aan die navorsing wat deur die Nasionale Minimumloon Kommissie gedoen sal word.

3. Werksure sal vooraf vasgestel word:

Die huidige voorstel is dat ‘n werker vir ‘n minimum van 4 ure per dag vergoed word, ongeag hoe lank daar gewerk is.

4. Die Nasionale Minimumloon word slegs elke tweede jaar hersien:

Dit beteken dat die minimumloon eers weer in 2020 hersien sal word, en werkgewers het die diskresie om verhogings (al dan nie) in 2019 toe te staan.

5. Die Nasionale Minimumloon is onderhewig aan dieselfde kwytskelding (exemption) proses as die huidige sektorale vasstelings:

Volgens die huidige vasstellings mag werkgewers ingevolge artikel 50 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes aansoek doen vir kwytskelding. Dieselfde proses sal met die Nasionale Minimumloon gedoen word, maar die aansoeke moet binne 30 dae hanteer word. Indien ‘n werkgewer nie binne 30 dae terug hoor vanaf die Departement van Arbeid nie, mag die werkgewer aanneem dat die kwytskelding toegestaan is. Die proses sal ook elektronies hanteer word, baie soos SARS se e-filing stelsel.

6. Werkgewers mag nie diensvoorwaardes wysig as gevolg van die Nasionale Minimumloon nie:

Volgens die NEDLAC ooreenkoms sal geen werkgewer toegelaat word om eensydige veranderinge aan diensvoorwaardes soos werksure te maak as gevolg van die implementering van die Nasionale Minimumloon nie. Deur dit te doen sal ‘n werkgewer hom skuldig maak aan nie-nakoming (non-compliance), en/of ‘n onbillike arbeidspraktyk. Afleggings as gevolg van die implementering van die Nasionale Minimumloon kan werkgewers blootstel aan nie-nakoming of onbillike ontslag-sake. Die regering het aangedui dat werkgewers bygestaan sal word om die Nasionale Minimumloon aan werkers te kan betaal, en die bystandsmetode sal bepaal word deur die navorsing wat die Nasionale Minimumloon Kommissie sal moet doen.

7. Ten slotte:

‘n Minimumloon is nie ‘n vreemde konsep vir die landbousektor nie, siende dat die sektor se arbeidskoste alreeds sedert 2003 deur sektorale vasstellings bepaal word. Hierdie sektorale vasstellings word grootliks nagekom, veral in Gauteng en die Wes-Kaap, met die kwytskelding proses wat nog altyd ‘n opsie is vir werkgewers wat nie die minimumloon kan bekostig nie.
Agri SA moedig nakoming van die Nasionale Minimumloon aan, en sal elke geleentheid benut om die wetlike proses te beïnvloed om te verseker dat werkgewers in staat gestel sal word om werkers volgens die Nasionale Minimumloon te betaal, en sodoende groei en voorspoed in die landbousektor te verseker.

Jahni de Villiers
Hoof: Arbeid en Transformasie

Comments ( 0 )

    Leave A Comment

    Your email address will not be published. Required fields are marked *

    Skip to toolbar